Francois Bloemhof

Soos met enige skrywer, het my skryfloopbaan met opstelle begin. Dit is natuurlik ook waar die meeste mense se begeerte om te skryf stomp eindig …
Gelukkig het ek goeie taalonderwysers gehad. Gelukkig het ek ook die vermoë om ’n storie te vertel, want enigiemand wat gaan kyk na die punte wat ek op skool gekry het (moenie!), sal sien ek kon eintlik niks anders word as skrywer nie.
Ek was ongelukkig ’n spesifiek begaafde leerder voor dié term gewild geraak het. My neus was in boeke, my ore by musiek, my oë op flieks. Ek was lui om enigiets te leer wat nie vir my interessant was nie – nie die onderwysers se skuld nie, maar ek was tog reg, want ek het nooit later daardie onnodige feite uit onnodige vakke gebruik nie. Sou dit nie lekker wees as ’n mens net twee skoolvakke hoef te neem, en dis die twee waarin jy die beste vaar nie?
Maar nou ja, dis nie realisties nie. Dis hoekom ek lief is vir skryf. Jy hoef nie realisties te wees nie. Dit moet net vir mense so voel!
In die derde kwartaal van graad nege het ons Engels-onderwyseres, Ms McCallum, gesê ons gaan dié keer in plaas van die gewone paar opstelle en briewe net een kortverhaal skryf. Myne was “Murder by the number”. Toe ek 97% daarvoor kry, het ek begin vermoed hier is dalk iets wat ek eendag vir ’n lewe kan doen. Toe dit in die klas voorgelees word en van die meisies op spannende oomblikke gil, was ek seker.
Al glo ek steeds die storie is die ding, het juffrou Langenhoven ons weer in Afrikaans geleer dat jy die regte manier moet vind om dit aan te bied.
So, dis wat ek vandag doen. Ek dink dinge uit en bied dit aan. Dankie daarvoor, Tygerberg.

Vir verdere inligting oor Francois en al sy boeke: Francois Bloemhof