Oud Tier presteer in die netbal-wêreld

Ons oud-tiere sit ook nie stil nie! Rochelle Lawson maak groot golwe in die netbal-wêreld! #OudTier #TiereTrots

 Source: https://www.facebook.com/NetballAcademy/?hc_ref=PAGES_TIMELINEThrilled to have SA Netball Superstar Rochelle Lawson as part of the Netball Academy…Please see Article below:

Die Burger – Rochelle bedank werk om netbal te speel

Rochelle Lawson moes kies – werk en netbal of net een van die twee. Toe kies sy netbal.

Dié Protea-hulpverdediger en verdedigende vleuel wou nie langer ’n ding net halfpad aanpak nie. Die 24-jarige Rottie (haar bynaam) het as onderwyser aan die Fairbairn-kollege in Goodwood bedank.

“Dit was ’n moeilike besluit, maar een wat ek moes neem. Die skool was ongelukkig nie baie ondersteunend nie en ’n mens kan net ’n beperkte aantal jare vir jou land speel,” het Lawson hier voor die eerste toets teen Wallis gesê.

Netbal het reeds en sou nog meer van haar verlofdae opgeëis het.

Benewens vandeesweek se toetsreeks wag daar die San­zea-reeks in Australasië, die Diamant-uitdaagreeks, die na­sionale kampioenskap én Protea-oefenkampe tussendeur.

Tussendeur reël sy aan haar troue op 1 Oktober met Eduard Loubser.

Lawson se peil was só goed in die Premierliga (sy was die Verdediger van die Reeks) dat Netbal Suid-Afrika ’n afvaardiging Kaap toe gestuur het om met Lawson en haar vorige werkgewer te vergader.

“Ek het besluit om vir die res van die jaar by Lushinka Scott (gewese WP-speler) se netbalakademie, Into the net, betrokke te raak en afrigting te doen. Ek sal kyk hoe die jaar verloop.”

Lawson, wie in haar gr. 4-jaar aan die Laerskool Goodwoodpark saam met die Springbok Eben Etzebeth onderskeidelik die skool se junior sportmeisie en -seun van die jaar was, se spelpeil het die laaste jare aanhou klim.

Die oudleerling van die Hoërskool Tygerberg was die groot verrassing in verlede jaar se Wêreldbeker-groep nadat sy by die agterdeur ingeglip het. Sy het net enkele dae in proewe gehad om spelers in die binnebaan na die WB-groep te klop.

“Dit was ’n groot verrassing, maar my uitgangspunt is dat ’n mens nooit gaan weet as jy nie probeer nie. Ek het dus besluit ek móés die kans aangryp.”

Aangesien sy aan Unisa gestudeer het, kon sy nooit aan die Ussa-toernooi of Varsity-reeks deelneem nie. Volgens haar het sy ’n agterstand gehad en moes sy harder op haar eie oefen.

Ofskoon sy met Karla Mostert om die posisie van hulpverdediger meeding, omarm sy dit. “Karla is my rolmodel en dis wonderlik om saam met haar te speel. Hopelik kan ek langs haar as VV speel, wat ek ook geniet om te speel.”